Ses selfmoorde aangemeld – Nampol

Die probleem van selfmoorde in Namibië, wat op ‘n besonder hoë koers is in vergelyking met die klein bevolking, het duidelik in die kollig gekom nadat nie minder as ses gevalle in die afgelope week aangeteken is. Volgens die polisie se misdaadverslag is daar ook een poging tot selfmoord aangemeld. Meeste van die selfmoorde was deur mans wat hulself gehang het. Die vreemdste was egter die geval van ‘n 30-jarige aangehoudene wat in die Oshikuku hospitaal in die Omusati-streek dood verklaar is nadat hy al sy medisyne by bewaarders gegryp en gedrink het voordat hulle hom kon keer. Hy was aangehou op verkragting- en aanranding klagtes. ‘n Twee-en-twintig-jarige man het homself ook in Okahandja om die lewe probeer bring deur batterysuur te drink, maar hy is gestop en na die hospitaal geneem waar hy in ‘n ernstige maar stabiele toestand is.