Russiese valskermsoldate na Kazakstan gestuur om opstand te stuit

Rusland het valskermsoldate na Kazakstan gestuur om ‘n landwye opstand te stuit nadat dodelike geweld in die streng-beheerde voormalige Sowjet-staat uitgekring het. Die polisie sê hulle het dosyne oproeriges in die hoofstad Almaty doodgeskiet. Staatstelevisie sê 13 veiligheidsmaglede is dood, waarvan twee onthoof is. Reuters-joernaliste in Almaty sê ‘n presidentswoning en die burgemeester se kantoor is aan die brand. Militêre personeel het die stad se lughawe van betogers teruggeneem. Internetdiense landwyd is afgesny. Die onrus het begin as betogings teen stygende brandstofpryse, maar het uitgekring na betogings teen die regering.