Rusland sny Sievierodonetsk af

Russiese magte het die laaste roetes vir die ontruiming van burgers uit die Oos-Oekraïnse stad Sievierodonetsk afgesny. Die laaste brug na die stad is vernietig, wat enige oorblywende burgerlikes nou vaskeer en dit onmoontlik maak om humanitêre hulp te lewer. Meer as 70 persent van die stad is onder Russiese beheer. Oekraïne het weer ‘n dringende beroep op die Weste gedoen vir nog wapentuig om die stad te verdedig. Die land se president, Volodymyr Zelensky sê die stryd om die oostelike Donbas sal afloop as een van die wreedste in die Europese geskiedenis. Die streek, wat uit die provinsies Luhansk en Donetsk bestaan, word deur Russiese separatiste geëis.