Rusland, maar nie Putin, na D-dag herdenking genooi

Rusland, maar nie president Vladimir Putin nie, sal na die Franse seremonie in Junie genooi word om 80 jaar sedert die Tweede Wêreldoorlog se D-dag in Normandië te vier. Putin het in Februarie 2022 troepe na Oekraïne gestuur en die Internasionale Strafhof het ‘n arrestasiebevel vir Putin uitgereik en beskuldig hom dat Oekraïnse kinders onregmatig gedeporteer is. ‘n Magdom wêreldleiers word by die seremonie verwag, insluitend die Amerikaanse president, Joe Biden. Organiseerders sê Rusland sal genooi word om die belangrikheid van die toewyding en opofferings van die Sowjet-volk te eerbiedig.