Damvlakke daal verder

Die beperking dat Hardap-produsente op die skema net 25 persent van hul landerye mag besproei weens die lae vlak van die dam, blyk om effe te help. Die dam is tans 12,1 persent vol en produsente het in die afgelope week net sowat 600 000 kubieke meter water onttrek – veel minder as die gewone gebruik. Volgens die nuutste damverslag is die Nautedam 46,8 persent vol en die Oanob by Rehoboth het 42,8 persent water. Die sentrale damme wat onder meer Windhoek voorsien het net 18,4 persent water. Die Swakoppoort is 36,1 persent vol en die Von Bachdam 11,3 persent. Die Ooste se totale bronne staan op 3,1 persent met die Otjiverodam wat 4,2 persent vol is. Die twee Viljoendamme het onderskeidelik 4,9 persent en 6,3 persent water. In die Noorde is die vlak van die Olushandadam onveranderd op 40,7 persent.