Rooies Mostert weer in hegtenis geneem

Oudlanddros Walter Rooies Mostert is weer in hegtenis geneem, het die direkteur-generaal van die Teenkorrupsie-kommissie van Namibië, Paulus Noa, bevestig. Kort nadat die Windhoekse landdroshof Mostert se aanvanklike aanhouding ongeldig verklaar het, het die polisie binne enkele ure ‘n geldige lasbrief vir inhegtenisneming vir Mostert verkry.  Landdros Ivan Gawanab het bevind die lasbrief vir sy oorspronklike inhegtenisname op 1 Maart 2021 was nie deur ‘n landdros geteken nie. Mostert, wat verlede jaar uit ‘n Windhoekse hospitaal ontsnap het, is verlede week naby die Suid-Afrikaanse grenspos Noordoewer in hegtenis geneem. Hy was verhoorafwagtend vir korrupsie, geldwassery, afpersing, bedrog en regsverydeling.