Rooftogte, onwettige wapens en DBV-diefstal…

Die Namibiese polisie sê net meer as 26 000 Namibiese dollar is gebuit by Pep Stores in Abraham Masego-straat in die hoofstad. Volgens die mag het die rooftog net na een-uur Sondag plaasgevind en vyf gewapende mans het die winkel bestorm. Hulle het in ‘n swart Nissan Tiida gevlug. In die noordweste, is ‘n man op Okanguati naby Epupa in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens. Hy is betrap met twee Kalashnikov aanvalsgewere met ammunisie sowel as twee .303 gewere ook met ammunisie. Die wapens was in ‘n stoorkamer sowel as agter bosse by sy opstal versteek. Die reeksnommer van een van die .303-gewere is met gepeuter. Hy sal vandag in die hof verskyn. Intussen word ‘n werknemer van die Walvisbaaise Dierebeskermingsvereniging daarvan verdink dat hy meer as 50 000 Namibiese dollar by die organisasie gesteel het deur middel van vervalste fakture. Die verdagte is nog nie gearresteer nie en die ondersoek duur voort.