Republikeine benoem Kevin McCarthy as Pelosi se opvolger

Hoewel die Republikeine op koers is om ‘n klein meerderheid in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers te behaal, sal die 57-jarige Kevin McCarthy, dié party se benoeming as speaker, ‘n opdraande stryd hê om wel in Januarie verkies te word. McCarthy het in ‘n stemming agter geslote deure 188 stemme teenoor Andy Biggs, sy mededinger, se 31 gekry. Indien die Republikeine wel die huis beheer, sal McCarthy diegene wat nou vir Biggs gestem het, moet oorhaal om vir hom te stem – iets wat nie maklik gaan wees nie. Hy het 218 stemme nodig om tot speaker verkies te word. Hy sal die huidige speaker en Demokraat, Nancy Pelosi, opvolg indien hy verkies word. Tans het die Demokrate 50 senaatsetels teenoor die Republikeine se 49 met 209 setels in die huis teenoor die Republikeine se 217.