Ram dood blykbaar sy eienaars

Nieu-Seelandse polisie het ‘n ram doodgeskiet nadat hy vermoedelik sy eienaars se dood veroorsaak het. Die polisie het op die liggame van die bejaarde egpaar in die kampie langs hul huis in Waitakere afgekom nadat hul seun bekommerd geraak het. Die dier was steeds daar en het die polisie aangeval, wat besluit het om hom van kant te maak. Die inwoners van die dorp was geskok oor die voorval en sê hulle kon nie glo wat gebeur het nie. Nadoodse ondersoeke sal op die slagoffers gedoen word en die owerhede het met ‘n ondersoek begin.