Putin verleng uitvoer van graan en kunsmis na Afrika

Die Russiese President Vladimir Putin het die Swartsee-ooreenkoms vir die uitvoer van grootmaat graan en kunsmis na Afrika met twee maande verleng. Die verlenging volg nadat die onderneming die naweek na ‘n siklus van 120 dae geëindig het. Putin het gepraat op die Internasionale Parlementêre Konferensie in Moskou, wat bygewoon is deur ministers van Afrika-regerings. Hy sê Afrikane moet die grootste begunstigdes wees. Putin sê indien daar nie aan die eise voldoen word nie, sal Rusland gratis kunsmis en graan na Afrika stuur sodra die ooreenkoms verstryk.