Prins Harry se saak teen The Sun kan aangehoor word

‘n Regter in die Verenigde Koninkryk het beslis dat prins Harry se regsgeding teen Rupert Murdoch se Britse poniekoerant-uitgewer oor bewerings van onwettige inligting-insameling, aangehoor mag word. In een van verskeie eise wat hy teen Britse koerantuitgewers aanhangig gemaak het, beweer Harry dat hy herhaaldelik geteiken is deur joernaliste en private ondersoekers wat vir The Sun werk. News Group Newspapers, die koerant se uitgewer, het beskuldigings van onwettige aktiwiteite ontken en die Hooggeregshof in Londen gevra om ‘n moontlike verhoor uit te stel, wat voorlopig volgende Januarie sou begin.