Plaaswerker se dood: Daar is nog nie ‘n verdagte nie

Die Namibiese polisie in die Karas-streek wag nog op die nadoodse ondersoek van ‘n 33-jarige plaaswerker van Lüderitz. Die polisie is op soek na inligting en getuies wat kan help om die dood van Edmund Ndaukako op te los. Sy familie het hom op 14 Februarie as vermis aangemeld nadat hy op 11 Februarie op ‘n plaas begin werk het. Volgens die getuienis aan die polisie het hy op 13 Februarie “verstandelik gestremd” begin optree en die eienaar van die plaas het hom teruggeneem Lüderitz toe. Ndaukako het glo op pad terug sowat 50 kilometer vanaf Lüderitz van die bakkie probeer afspring en die plaaseienaar het hom langs die pad gelos. Nadat hy as vermis aangemeld is, is Ndaukako se spore gevolg en sy liggaam is 20 kilometer verder gevind. Die Karas-streek se koördineerder van misdaadondersoeke, adjunkkommissaris Chrispin Mubebo, sê daar is nog nie ‘n verdagte nie.