Pap, rys, pasta, suiker ens., gaan op

Namib Mills het aangekondig dat die pryse van brood, mieliemeel, rys, kitspap-produkte, suiker en pasta vanaf 25 April 2022 styg. Mieliemeel styg met 3 persent, terwyl Top Score kitspap met 3,5 persent opgaan. Pasta is 5 persent duurder en koringmeel 6 persent. Brood styg met 3,5 persent, rys 4 persent en suiker, 3 persent. Namib Mills het in ‘n mediaverklaring verduidelik dat die voortslepende oorlog tussen Rusland en die Oekraïne reeds toenemende globale voedsel- en energiekoste vererger het. Altesaam 25 Afrikalande voer koring en sy produkte van dié twee lande in. Namib Mills sê selfs voor die oorlog was voedselpryse aan die styg vir die afgelope jaar as gevolg van ‘n verskeidenheid faktore soos stygende vervoerkoste, voorsieningsketting-ontwrigting en stygende kommoditeitspryse, soos mielies en koring. Boonop staar China sy ergste koringoes in dekades in die gesig ná ernstige oorstromings en beplan om baie meer van die wêreld se kwynende koringvoorraad te koop.