Owerhede soek piepklein radioaktiewe kapsule op 1 400 kilometer pad

Die Britse mynreus, Rio Tinto, het om verskoning gevra nadat ‘n piepklein radioaktiewe kapsule verlore geraak het terwyl dit deur Wes-Australië vervoer is. ‘n Nood-soektog na die toestel, wat omtrent so groot soos ‘n ertjie is, is tans aan die gang. Die roete is 1 400 kilometer lank. Daar word berig die kapsule bevat ‘n klein hoeveelheid radioaktiewe sesium-137, wat kan veroorsaak dat enigiemand wat daarmee in aanraking kom ernstig siek word. Dit kan velskade, brandwonde en bestralingsiekte insluit. Nooddienste gebruik bestralingsverklikkers en ander gespesialiseerde toerusting in die soektog.