Opvolgers staan tou vir Britse premierspos

Die stryd binne die Britse regerende Konserwatiewe Party is aan die gang om Boris Johnson as leier en uiteindelik as eerste minister van die land te vervang. Die beleërde Johnson het Donderdag aangekondig hy bedank as partyleier en sal Downingstraat 10 ontruim sodra sy opvolger aangekondig word – waarskynlik in Oktober. Volgens berigte oorweeg die voormalige minister van gesondheid, Jeremy Hunt, en die gewese minister van finansies, Rishi Sunak, om hulle beskikbaar te stel vir die posisie. Die prokureur-generaal, Suella Braverman, en die senior agterbanker, Tom Tugendhat, se name word ook genoem.