Opsystaanreël kan ANC verder verdeel

‘n Politieke ontleder in Suid-Afrika is bekommerd die ANC se opsystaanreël kan die verdeeldheid in die regerende party vererger. ‘n Senior dosent aan die Universiteit van Mpumalanga, John Molepo, sê die reël sal ernstige gevolge hê, omdat partylede hulle eie leiers kies. Hy sê die nasionale uitvoerende komitee se besluit kan in Desember tydens die nasionale verkiesingskonferensie uitgedaag word. Die riglyne sê lede wat teregstaan op ernstige aanklagte of wat deur ‘n hof skuldig bevind is, behoort nie vir enige leiersposisie beskikbaar te wees nie.