Onwettige visserman verdrink in Von Bach

Die liggaam van 20-jarige Matias Kamvivanu, ‘n Angolese burger, is deur polisieduikers uit Von Bachdam teruggevind. Volgens inspekteur Maureen Mbeha, woordvoerder van die Otjozondjupa-polisie, het Kamvivanu en nog ‘n 18-jarige Angolese burger, Donderdagaand na Von Bachdam gereis met die doel om vis te vang deur die gebruik van ‘n visnet. Dit is onwettig om ‘n net in die dam te gebruik. Besoekers betaal 10 Namibiese dollar en mag met ‘n lyn onbeperk visvang. Kamvivanu het tydens die opstel en uitspan van die visnet verdrink. Onwettige vissermanne is daarvoor bekend dat hulle leë bottels met tou om hul lywe vasmaak wat nie veilig is nie. ‘n Nadoodse ondersoek is van stapel gestuur.