Ongunstige weer lei ook tot hemelhoë kospryse

Inflasiesyfers is Donderdag bekend gemaak en voedselpryse, veral vir olies en vette het skerp gestyg. Volgens Simonis Storm, is die konflik in Oos-Europa nie alleenlik daarvoor verantwoordelik nie. Die makelaarsfirma sê weerstoestande wat die produksie van palm- en sojabone negatief beïnvloed het speel ook ‘n rol. Droogtes in Brasilië en Argentinië, en tifone en vloede in Maleisië het die wêreldwye aanbod van die kommoditeit verlaag. En dis nie net olies nie. Ongunstige temperature in Kalifornië en Mexiko het byvoorbeeld gelei tot laer produksie van broccoli, met die vraag wat sedert laat 2021 die aanbod oorskry. Ook in Suid-Afrika het broccoli-opbrengste afgeneem as gevolg van ongunstige weerstoestande. Simonis Storm sê kookolie het in die afgelope jaar met 20 persent gestyg terwyl mielies 34 persent duurder is. Avokado’s is 33 persent duurder en die prys van broccoli het met amper 19 persent gestyg.