Okh-veldbrand: situasie is plofbaar

Die veldbrand wat reeds sedert Saterdag vermoedelik op die regeringsplaas Rudenau wes van Okahandja ontstaan het, is steeds nie geblus nie. Die boere net wes van die dorp het gedurende die nag die brand teruggehou en voorbande gemaak om die vuur te stuit. Teen gistermiddag het hy op Gross Barmen gebrand en is weer oos aangedryf deur ‘n sterk westelike wind maar die gemeenskap het dit onder beheer gebring. Volgens boere in die gebied is die situasie steeds plofbaar met honderde klein vuurtjies wat brand en met ‘n sterk wind weer kan opvlam. Terwyl die noordelike en oostelike gebiede goeie reën in die afgelope dae ontvang het is die land steeds baie droog. Na ‘n rekord brandseisoen is derduisende hektaar verwoes.