Nuwe seksuele-klagte teen Trump

Die skrywer E. Jean Carroll het ‘n nuwe klag van seksuele aanranding teen Amerika se vorige president, Donald Trump, aanhangig gemaak. Dit volg nadat ‘n New Yorkse wet wat tydelik voorsiening maak dat volwasse slagoffers van seksuele misbruik die oortreders kan dagvaar nadat die tydsbeperking op siviele eise verstryk het, gister van krag geword het. Carroll beweer die aanval het 27 jaar gelede in ‘n luukse afdelingswinkel se kleedkamer plaasgevind. Trump ontken die bewerings. Sy soek ‘n onbekende bedrag aan kompenserende en bestraffende skadevergoeding vir pyn en lyding, sielkundige skade, verlies aan waardigheid en skade aan haar reputasie.