Noodwetsontwerp deur Biden onderteken om tyd te koop

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het die wetsontwerp op oorbruggingsuitgawes onderteken wat vroeër deur die Raad van Verteenwoordigers en die Senaat goedgekeur is. Dit is gedoen om te verhoed dat die federale regering se kantore moet sluit weens ‘n gebrek aan geld. Die wetsontwerp beteken dat staatsdepartemente en -agentskappe tot 3 Desember befonds kan word. Biden sê die wetgewing stel geld beskikbaar vir kritieke behoeftes soos sy Covid-19-program, die hervestiging van Amerika se Afghaanse bondgenote en ramphulp. Hy sê dit gee sy regering ook meer tyd om wetgewing vir finansiering op die lang termyn deur te voer en dienste aan die bevolking te lewer.