Nieu-Seelandse kaptein dalk nuwe krieketafrigter van Engeland

Krieket: Die Britse media bespiegel die gewese Nieu-Seelandse kaptein, Brendon McCullum, kan moontlik die nuwe hoofafrigter van Engeland se nasionale span wees. Die 0-4-nederlaag om die As vroeër die jaar in Australië het gelei tot die vertrek van Chris Silverwood, waarna Paul Collingwood in die posisie waargeneem het. Behalwe McCullum, is die name van Collingwood en die gewese Suid-Afrikaanse speler en afrigter, Gary Kirsten, ook genoem. Ben Stokes is verlede week as nuwe toetskaptein aangewys en volg Joe Root op. ‘n Aankondiging oor die nuwe afrigter word later die week verwag.