Nege Ethiopiërs in arres na hulle land onwettig binnekom

Nege Ethiopiese burgers is deur die polisie gearresteer terwyl hulle Namibië onwettig vanuit Angola binnegekom het. Die vier mans en vyf vroue is met ‘n wit Toyota-bakkie oor die grens vervoer. Dit is gekonfiskeer, en die 42-jarige Namibiese bestuurder in hegtenis geneem. Hy is ‘n inwoner van Rundu. Die polisie het gesê die saak het al die kenmerke van mensehandel. Volgens Omusati-streekpolisiebevelvoerder, Ismael Basson, is die verdagtes omstreeks 10-voor-11 Donderdagaand deur ‘n polisiepatrollie van die Okapalelona-substasie aangekeer terwyl hulle die grens tussen Omufituweelo- en Okatanyange-dorpies oorgesteek het. Die Ethiopiërs het geen identifikasie-dokumente gehad nie.