Nampol waarsku oor ‘versteekte’ space cakes

Die Namibiese polisie waarsku inwoners van die hoofstad veral, om versigtig te wees as hul koekies by informele handelaars op die straat aankoop. Volgens adjunkkomissaris Kauna Shikwambi, is ‘n 23-jarige man in Pionierspark vasgetrek met 103 koekies wat bevestig is om dagga te bevat. Shikwambi sê voorlopige inligting dui daarop dat kopers nie noodwendig ingelig word van die feit dat die koekies dagga bevat nie. Sy sê verder dat die koekies in verskeie vorms sowel as geure verkoop word om jonger klante te lok. Blykbaar word skoolkinders geteiken. Ouers word gemaan om kinders te verhoed om koekies by vreemdelinge te koop en ook uit te kyk vir enige gedragsverandering. Nampol sê dagga-koekies is ook in Katima Mulilo gekonfiskeer.