N$134m net ‘weg’ by Rundu

Rundu se dorpsraad kan nie verantwoording doen vir 134 miljoen Namibiese dollar nie. Die Nasionale Raad se staande komitee op openbare rekenings het sy verhoor op die dorp gehou. Dit volg na verskeie besoeke aan ander dorpe na die ouditeur-generaal se kantoor ‘n nadelige oudit opinie oor die dorpsrade se boeke gegee het. Vir die 2016-2017 boekjaar, het Rundu geen ondersteunende dokumentasie vir die uitgawes van 134 miljoen dollar nie. Intussen skuld Rundu NamWater 124 miljoen dollar en word nou gedwing om voorafbetaalde water by die watervoorsiener aan te koop. Vullisverwydering dienste op die dorp is ook uiters swak met herhaalde onderbrekings en inwoners sê daar is geen dienslewering nie.