Moody’s pas Eskom-skuldgradering opwaarts aan

Die internasionale graderingsagentskap Moody’s het sy vooruitsig oor Eskom se skuldgradering vir die eerste keer in 15 jaar tot positief aangepas. Dit volg na die minister van finansies, Enoch Godongwana se aankondiging in sy mini-begroting, dat die regering beplan om tussen ‘n derde en twee-derdes van die beleërde kragvoorsiener se skuld oor te neem. Moody’s se senior vise-president, Joanna Fick, sê die besluit dui op ‘n moontlike rigtingverandering vir Eskom, wat sedert 2008 in ‘n afwaartse neiging was. Sy sê ‘n gedeeltelike skuldoordrag deur die regering sal die kragvoorsiener se balansstaat verbeter.