Ministerie waarsku weer teen renosterstropery

Die omgewingsake-ministerie rig weer ‘n waarskuwing dat deelname aan renosterstropery in Namibië ernstige gevolge het, en doen ‘n beroep op die publiek om vermeende voorvalle by die polisie of die ministerie aan te meld. Die ministerie sê die regsbank besef die erns van hierdie misdaad en die impak wat renosterstropery op bewaring en die gepaardgaande voordele daarvan het. Hy verwys na die swaar strawwe wat opgelê is in ‘n saak waarin wyle Dr. Uakaerera Kandji en vier medebeskuldigdes betrokke was. Hul arrestasies het gespruit uit ’n stroperyvoorval in Desember 2016, waar vier witrenosters op ’n private plaas in die Gobabis-distrik doodgemaak is. Die vier oorblywende beskuldigdes is op drie uit vier aanklagte skuldig bevind. Die vonnisse sluit 15 jaar tronkstraf in, waarvan vyf opgeskort is, vir die jag van spesiaal beskermde wild. Hulle het ook ses jaar ontvang, met drie wat opgeskort is, vir diefstal van die renosterhorings.