Meer as 37 000 selfone in SA tronke gekonfiskeer

Die Suid-Afrikaanse minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het aangekondig daar is in die 2022/23-boekjaar beslag gelê op 37 243 selfone in Suid-Afrikaanse tronke. Gauteng het die hoogste getal op 10 238 gehad. Die minister het bevestig 24 tronkbeamptes is dissiplinêr verhoor vir hul rol in die insmokkel van die selfone. Agt van hulle is afgedank. Lamola sê daar is maatreëls ingestel om te verseker gevangenes het nie toegang tot selfone nie.