Namibië moet meer ‘innoverend dink oor diamant tantième-modelle’

Botswana se diamanthandelmaatskappy, Okavango Diamond Company, kry volgens ‘n nuwe ooreenkoms met De Beers aanvanklik 30 persent van diamante wat deur Debswana gelewer is. Dit styg dan geleidelik tot 50 persent teen die einde van die ooreenkoms in 2033. Die ooreenkoms verleng ook mynlisensies vir 25 jaar, wat De Beers se teenwoordigheid in Botswana effektief tot 2054 verseker. In teenstelling hiermee, het Namibië in 2021 ‘n nuwe ooreenkoms met De Beers onderteken wat strek tot 2042. Die ooreenkoms verlaag die 10 persent tantième wat deur die 50:50 gesamentlike onderneming Namdeb aan die regering betaal is tot 5 persent, vir die eerste vier jaar van die ooreenkoms. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met dr. Marius Kudumo, ’n kenner van korporatiewe bestuur, wat sê Namibië dink nie innoverend oor nuwe tantième-modelle nie.