‘Maple-stroop’ reserwes word oopgestel… ja, daar is reserwes…

Is jy lief vir sogenaamde esdoornstroop, in Engels bekend as maple syrup, op jou pannekoek? Nou ja, dan het jy geen rede tot kommer nie. Kanadese owerhede het ongeveer die helfte van die wêreld se enigste esdoornstroop-reserwe oopgestel as gevolg van tekorte wat ervaar word. Kanadese is veral lief vir die stroop op hulle pannekoek en vraag het skerp toegeneem tydens die pandemie. Die Quebec Maple Syrup Producers, wat die reserwes bestuur, sê daar is nie veel van ‘n keuse nie omdat die oes vanjaar ook sal krimp as gevolg van warmer temperature. Die produsente is verantwoordelik vir driekwart van die wêreld se esdoornstroop en 45 miljoen kilogram sal vroeg in Januarie beskikbaar gestel word. So waardevol is die stroop dat meer as 226 miljoen Namibiese dollar se stroop in 2012 vanuit die reserwe gesteel is.