Lyfsproei om hormone te verdoesel

‘n Britse boer het ‘n verrassende oplossing gevind om die aggressie van haar ramme te verminder.

Sam Bryce, wat met skape op die Norfolk-Suffolk-grens in Engeland boer, het met haar hande in die hare gesit omdat haar ramme alewig met mekaar baklei, en het haar tot die Facebook-groep Ladies Who Lamb gewend vir raad.

Die dames op die groep se raad was sy moet die ramme met AXE-lyfsproei bespuit want dit verdoesel die hormone wat veroorsaak dat ramme aggressief teenoor mekaar raak.

Sedert Sam begin het om die liggaamsproei op die diere te gebruik, het hulle alewige gestoei afgeneem.

Sommige mede-skaapboere het gesê die produk is goed vir meer as net om ramme kalm te hou. ‘n Suffolk-skaapwagter, Caitlin Jenkins, het gesê sy gebruik dieselfde produk om moeder-skape te oortuig om verlate lammers aan te neem.

Sy het gesê ooie identifiseer hul babas aan die hand van hul reuk, en die gebruik van die liggaams-sproei verwar hulle om te dink die lammers behoort aan hulle.