Kwagga in die Kaap geteel, vul in Desember gebore

Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes vier die geboorte van ‘n jong ‘Rau’-kwagga, ‘n skaars subspesie van die sebra. Die koms van die jongeling is ‘n mylpaal in ‘n ambisieuse projek wat in 1987 begin het, om ‘n dier te teel wat so na as moontlik na die kwagga lyk. Die ‘Rau’-kwagga is in die tweede helfte van die 19de eeu deur jagters uitgeroei en die laaste bekende merrie het in 1883 in die Amsterdamse dieretuin gevrek. Die vulletjie is op 14 Desember gebore, ná  ‘n dra-tyd van 12 maande. Die nuweling se geslag is nog nie bepaal nie.