Kohli tree uit na nederlaag teen Proteas

Virat Kohli het ná sewe jaar as kaptein van die Indiese toetsspan uitgetree. Kohli het die span in 68 wedstryde gelei waarvan hulle 40 gewen het. Dit maak hom Indië se suksesvolste kaptein. Hy het gister die aankondiging gedoen ná Indië die toetsreeks teen Suid-Afrika met 2-1 verloor het. Die 33-jarige Kohli het sy kapteinskap van die Twenty20-reeks in September opgesê en is in Desember as een-dag-kaptein vervang. Die openingskolwer Rohit Sharma het in albei formate oorgeneem.