Hotel Rwanda-ster vrygelaat in Kigali

Paul Rusesabagina is volgens Amerikaanse amptenare uit ‘n Rwandese tronk vrygelaat nadat daardie land se regering sy tronkstraf versag het ná diplomatieke pogings deur die Verenigde State. Rusesabagina, eens ‘n hotelbestuurder in Rwanda se hoofstad, Kigali, word daarvoor erken dat hy honderde lewens gered het tydens die land se volksmoord in 1994. Sy optrede het die Hollywood-rolprent Hotel Rwanda geïnspireer. Rusesabagina is na die woning van die Katari-ambassadeur in Kigali geneem. Hulle sê hy sal waarskynlik ‘n paar dae daar bly voordat hy na Katar vlieg, wat gehelp het om sy vrylating te bemiddel. Hy sal daarna na die VSA verhuis. Sy skuldigbevinding is steeds geldig in Rwanda en kenners meen dit is op hierdie basis dat President Paul Kagame sy vrylating toegelaat het. Sy verhoor in September 2021, waar hy 25 jaar tronkstraf vir terreur ontvang het, is as ‘n klug beskryf.