Goed en sleg in SONA, veral met dienslewering

Terwyl President Hage Geingob geloof word vir sy aankondiging dat die toelaag aan gestremde kinders in die 2023 finansiële jaar vanaf 250 dollar maandeliks na 1 300 dollar opgeskuif word, is hy agter in sy behuisingsteikens vir sy tweede Harambee-welvaartsplan. Die plan is verlede jaar in werking gestel en loop in 2025 tot ‘n einde. Daar is 24 000 erwe wat gediens moet word en 20 000 huise wat gebou moet word in die periode. In die eerste jaar is ‘n skamele 1 252 erwe gediens en 1 282 huise oorhandig. Maar, die plan vorder met die verwydering van die puttoiletstelsel. Landswyd was daar 483 puttoilette verlede jaar die tyd en 77 persent, of 366 is reeds vervang met volwaardige toiletstelsels. Hy het al beloof om die putstelsels in sy eerste plan heeltemal te verwyder. Elektrifisering is ook agter. Hy het in sy eerste plan beloof dat 50 persent van landelike huishoudings elektrisiteit sou ontvang maar die syfer staan tans op 20 persent, op van 18 persent in 2015.