Diplomatieke herrie oor Russiese skaatser en verbode middels by die Spele

Die Russiese sierskaatser Kamila Valieva is positief getoets vir ‘n verbode middel, trimetasidien. Die Russiese Agentskap teen Verbode Middels het op Kersdag ‘n monster van die 15-jarige verkry. Dit is eers Dinsdag by die agentskap getoets, ‘n dag nadat sy by die Winter Olimpiese Spele in Beijing ‘n goue medalje in die span-item gewen het. Sy is voorlopig geskors, maar het die skorsing teengestaan, waarna die agentskap Woensdag ingestem het om die skorsing op te hef. Die Internasionale Olimpiese Komitee het vertoë tot die Arbitrasiehof vir Sport gerig dat Valieva se skorsing van krag bly.