Brittanje behaal hitte-rekord

Brittanje het Dinsdag sy hoogste temperatuur ooit van 40,2 grade Celsius op Heathrow-lughawe aangeteken. Dit is meer as ‘n graad hoër as die vorige rekord van 38,7 grade in die Cambridge botaniese tuin in 2019. Die versengende hittegolf in Europa laat treinspore buig en het ‘n vlaag brande regoor Londen aangevuur. Londen se brandweer het mense aangemoedig om nie te braai nie, aangesien 110 brandweerwaens ingespan is teen brande regoor die hoofstad. In die ooste het ‘n groot brand huise in die dorpie Wennington verswelg, met vlamme wat naburige droë velde verwoes het. Elders was groot grasgebiede rondom die hoofstad aan die brand en het rook oor paaie en nabygeleë gebiede geblaas.