Britse vakbonde eis werkers werk van die huis af tydens hittegolf

Vakbonde in Brittanje eis dat werkers van die huis af kan werk nadat die weerkantoor ‘n oranje waarskuwing uitgereik het vir uiterste hitte Sondag. Die kantoor waarsku daar is ‘n 30 persent kans dat dit warmer sal wees as die hoogste temperatuur wat nog ooit in dié land opgeteken is. Die waarskuwing dek dele soos die ooste van Engeland, Londen, Yorkshire en dele van Wallis. Die kantoor is nie seker hoe lank die ongewoon warm weer sal voortduur nie. Die land se warmste dag op rekord is 38,7 grade Celsius. Dit is drie jaar gelede in die Cambridge-botaniese tuine gemeet.