Britse eerste minister besoek Kiëf

Die Britse eerste minister Rishi Sunak het sy eerste besoek aan die Oekraïne gebring sedert hy sy amp beklee, waar hy met die Oekraïnse President Volodymyr Zelensky ontmoet en ‘n wapenbelofte gemaak het. Sunak sê hy voel diep nederig om in die stad Kiëf te wees. Tydens die verrassingsbesoek het Sunak ‘n pakket van 50 miljoen pond bevestig om die Oekraïnse lugverdediging teen Russiese magte en hommeltuie wat deur Iran verskaf is, te versterk. Dit volg na intense bom-aanvalle deur Vladimir Putin se magte die afgelope week, met die Oekraïne wat sê dat Rusland meer as 148 missiel-aanvalle op kritieke infrastruktuur geloods het, wat ongeveer tien miljoen mense sonder krag gelaat het.