Brent daal maar rand is te swak vir enige voordeel

Die prys van Brent ru-olie het vanoggend met handel wat in Asiatiese markte reeds geopen het, verder teruggesak na net bo 73 Amerikaanse dollar per vat. Kenners en ontleders sê die daling is aangedryf deur ekonomiese groei in die VSA wat onder druk is, sowel as uitdagings in China en verdere besnoeiings deur Opul en sy vennote. Brent het in die afgelope week net meer as 2 persent in waarde verloor. Die Amerikaners kan moontlik ‘n resessie beleef veral as die regering hom skuldig maak aan wanbetaling as sy skuldperk nie gelig word nie. China groei ook nie soos verwag nie. Opul het in April aangekondig dat sy lede verdere besnoeiings in produksie sal maak wat die totale besnoeiings op 3,66 miljoen vate daagliks sal bring. Maar enige voordele in die daling van die olieprys word uitgewis deur die stand van die rand. Die geldeenheid se waarde het nie veel teen die Amerikaanse dollar verbeter nie. Op die oomblik sal ‘n Amerikaanse dollar jou 19,12 uit die sak jaag. Die rand het getuimel na uitlatings deur die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika dat die ANC wapens aan Rusland verkoop het, gepaard met hoër fases van beurtkrag wat die winter verwag word.