Brandstof-kleinhandelaars meen vergadering met Shilunga het goed verloop

Die langverwagte vergadering tussen die Namibiese ministerie van myne en energie en vulstasie-eienaars het uiteindelik Maandagnamiddag in die hoofstad begin nadat dit van half-12 tot vier-uur uitgestel is. Die ministerie het vroeër vir voorstelle van die bedryf gevra. Die bedryf soek ‘n verhoging in heffings wat minister Tom Alweendo reeds van die hand gewys het. Daar was eers frustrasie omdat Alweendo nie by die vergadering was nie maar, sy adjunk, Kornelia Shilunga gestuur het. Maar, volgens diegene wat die vergadering bygewoon het, het Shilunga ‘n beduidende bydra gemaak en die voorsitter van die vereniging van vulstasie-eienaars, Hennie Krüger sê haar karakter en integriteit kan nie in twyfel getrek word nie. Hy voeg by dat Shilunga altyd ‘n oplossing kan vind. Kosmos 94.1 Nuus sal vandag opvolg oor die stand van sake, veral in verband met die moontlike staking en of dit afgelas is.