Botswana herwin posisie as top-uitvoermark van Namibië

Namibië se top-vyf uitvoermarkte vir Maart verteenwoordig 60,8 persent van die totale uitvoer, volgens die Namibiese Statistieke-agentskap se handelsbulletin vir Maart. Botswana het as Namibië se top-uitvoerbestemming na vore getree met ‘n aandeel van 21,1 persent, terwyl Suid-Afrika tweede gekom het met 16,7 persent en Frankryk in die derde plek met 9 persent. Zambië met 7,2 persent en China met 6,8 persent is onderskeidelik in die vierde en vyfde plek. Die top-vyf invoermarkte vir die land was verantwoordelik vir 69,7 persent met Suid-Afrika in die eerste plek met ‘n aandeel van 35,2 persent. In die tweede plek was China met 12,6 persent gevolg deur Peru in die derde plek met 9,3 persent. Die Verenigde Arabiese Emirate en Switserland is vierde en vyfde met onderskeidelik 7,1 persent en 5,6 persent.