Belê kongres om nuwe Swapo-president te verkies!

Drie Swapo-lede het ‘n ultimatum gestel aan die party se sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa, dat die Swapo Sentrale Komitee teen 4 Mei ‘n buitengewone kongres moet belê om ‘n nuwe Swapo-president te verkies. As dit nie gebeur nie, sal hulle die Hooggeregshof vra vir ‘n verklarende bevel in die verband. Reinhold Shipwikineni, Peter Shituula en Joshua-Vaino Martins sê in ‘n prokureursbrief dat Artikel 15(9) van die Swapo-grondwet nie gevolg is na die afsterwe van president Hage Geingob nie. Die artikel bepaal dat ‘n nuwe party-president op ‘n buitengewone vergadering verkies moet word, binne drie maande na byvoorbeeld die sterfte van die dienende president. Dit het nie gebeur nie.