Beesvleis Waardeketting-forum deurkruis volgende week die land

Die Beesvleis Waardeketting-forum se tweede venster vir aandeel-aankope vir produsente sluit op 9 September en daar is slegs 42 miljoen Namibiese dollar se aandele wat beskikbaar sal wees. Volgens die voorsitter van die forum, Mecki Schneider, is die strategiese merk van 75 persent van die aandele in produsent-besit verbygesteek. Die forum het ten doel om ’n volhoubare, winsgewende beesvleis-waardeketting te skep deur vleisprodukte voor uitvoer te verwerk. Die forum hou in samewerking met Cirrus Capital volgende week landwye vergaderings wat Maandagoggend op Grootfontein afskop, gevolg deur ‘n vergadering die middag op Otavi. Dinsdag is die forum op Outjo en Otjiwarongo, Woensdag op Gobabis en Leonardville, en dit sluit Donderdag in Windhoek by Cirrus se kantoor af.