Afrika-leiers wil konflik in Oekraïne beëindig

Die Suid-Afrikaanse Presidensie sê President Cyril Ramaphosa het die Chinese leier, Xi Jinping ingelig oor die Afrika-leiers se komende besoek aan Rusland en Oekraïne om die konflik te probeer beëindig. Die twee leiers het volgens berigte telefonies gesels. Die Presidensie sê Ramaphosa het aan Xi gesê hy neem kennis van China se voorgestelde vredesplan en hy bevestig die Afrika-leiers se steun vir inisiatiewe wat tot ‘n vreedsame oplossing van konflik kan lei. Die twee leiers het in die oproep ook die komende Brics-beraad in Augustus in Suid-Afrika bespreek. Ramaphosa sê Suid-Afrika oorweeg opsies indien die Russiese President Vladimir Putin, die beraad wil bywoon. Die Internasionale Strafhof het vroeër ‘n lasbrief uitgereik vir Putin se inhegtenisneming vir oorlogsmisdade in Oekraïne, wat Suid-Afrika sal moet uitvoer indien Putin die land besoek.