Namibiese gesondheidswerkers kry opleiding 

Altesaam 29 gesondheidswerkers, insluitend verpleegsters, mediese dokters en omgewings-gesondheidsbeamptes, het ‘n kursus in veld-epidemiologie en laboratorium-opleiding voltooi. Beamptes van verskillende instellings, insluitend die ministeries van verdediging en landbou en die Namibiese Instituut vir Patologie, het drie maande se opleiding ondergaan wat daarop gemik is om openbare gesondheids-ingrypings soos siekte-uitbrekings-ondersoeke en -reaksies te versterk. Dr. Esther Muinjangue, die adjunkminister van gesondheid, sê die kennis en vaardighede wat in die opleiding aangebied word, is nou meer as ooit nodig, aangesien Namibië aanhou reageer op die Covid-pandemie en ander siektes, soos aappokke wat kan uitbreek. Sy verwys ook na die onlangse masels-uitbreking in die Omusati-streek en sê dit is ‘n duidelike aanduiding dat Namibië te alle tye voorbereid moet wees.