Publiek se insette gevra oor Omdel-Wlotska-pyplyn

‘n Openbare konsultasie, wat deel vorm van die omgewings-impakstudie vir die vervanging van die pyplyn van die Omdeldam na Wlotkazbaken aan die kus, vind môremiddag op Hentiesbaai plaas. Dit volg nadat NamWater die tender ter waarde van 271 000 Namibiese dollar aan Lana Environmental Consulting toegeken het om die omgewings-impakstudie en -plan voor te berei. Die pyplyn, wat ondergronds is, loop vanaf die Omdel-reservoir tot by Orano se ontsoutingsaanleg. Die Omdeldam is in die Omaruru-delta geleë en is so gebou dat hy die ondergrondse waterbronne hervul wanneer die Omaruru-rivier in vloed is. Dus word die dam se water ondergrond gestoor. Op die oomblik word 8,5 miljoen kubiek meter water jaarliks uit die dam onttrek.