Switserse graffiti-kunstenaar kom sy Moses op Swakopmund teë 

Die Swakopmund-buurtwag het vanoggend tydens hul patrollie op ‘n ontluikende Picasso afgekom terwyl hy besig was om sy grafitti-kunswerk teen die muur van die Namibiese polisiestasie in Theo Ben Gurirabstraat te spuitverf. Hy het op die vlug geslaan, maar is op kringtelevisiekameras waargeneem en in Libertina Amathilastraat aangekeer. Hy het eers ontken dat hy enigiets van die straatkuns weet, maar later erken dat hy die ontluikende Picasso is en ‘n tweede meesterstuk teen ‘n muur in die omgewing van die Georg Ludwig Kleuterskool uitgewys. Die Switserse man is van mening dat die Swakopmundse middedorp ‘n tikkie kuns nodig het om dit meer aantreklik vir inwoners en besoekers te maak. Hy moes oorskakel van blikkies spuitverf na blikkies verf en ‘n verfroller om oor sy meesterstukke te verf. ‘n Paar jaar gelede het Franse graffiti-kunstenaars in die moeilikheid gekom toe hulle die Garub-treinstasie in die Suide ontsier het.