Blinken vra Hamas moet Israel se ‘vrygewige’ voorstel aanvaar

Die Amerikaanse buitelandse sake-minister, Antony Blinken, het Hamas aangemoedig om vinnig ‘n “vrygewige” Israeliese voorstel vir ‘n wapenstilstand in die Gaza-oorlog te aanvaar. Hamas-onderhandelaars sou na verwagting met Katari en Egiptiese bemiddelaars in Kaïro ontmoet om reaksie te lewer op Israel se voorstel tot ‘n gefaseerde wapenstilstand. Israel se voorstel behels die vrylating van minder as 40 van die sowat 130 gyselaars wat vermoedelik nog in Gaza aangehou word, in ruil vir die bevryding van Palestyne uit tronke in Israel. ’n Tweede fase sal bestaan uit ’n “tydperk van volgehoue kalmte” – Israel se kompromie-reaksie op ’n Hamas-eis vir ’n permanente wapenstilstand.