Zverev uit toernooi geskop vir onsportiewe gedrag

Die Duitse ster Alexander Zverev is uit die Meksikaanse Ope geskop nadat hy die skeidsregter aangeval het. Die wêreld nommer drie het die skeidsregter se stoel herhaaldelik met sy raket geslaan nadat hy en sy dubbelspelmaat, Marcelo Melo, in die ronde van 16 teen Lloyd Glasspool en Harri Heliövaara verloor het. Die organiseerders het later aangekondig Zverev is uit die toernooi geskors weens onsportiewe gedrag. Hy was die verdedigende kampioen in die enkelspel en sou môre in die ronde van 16 teen sy landgenoot Peter Gojowczyk gespeel het.